KAN dit wees dat êrens in die Aarde se binneste ’n
aktiewe kernreaktor bestaan? Die blote vraag kan ’n mens
nogal kriewelrig en ongemaklik laat voel.
Gelukkig is daar darem al vroeg ’n gerusstelling: Selfs
al is dit so, beteken dit nie ons sit op ’n tydbom nie.
’n Hoop natuurlike uraan kan eenvoudig nie tot ’n
ontploffing soos by ’n kernbom lei nie, selfs wanneer
dit in groot hoeveelhede gekonsentreer word, soos in die
geval van die oeroue natuurlike reaktor wat 1,8 duisend
miljoen jaar gelede by die huidige Oklo in Gaboen aktief
was. Sulke reaktore is inderdaad selfregulerend: Daar
kan nie ’n weghol-kettingreaksie ontstaan soos by ’n
kernontploffing nie.
Waarom sou iemand vermoed dat in die kern van die Aarde
’n “georeaktor” bestaan? Die aanvaarde wysheid dui
daarop dat die Aarde se uraan in die kors en boonste
mantel gekonsentreer is, met ’n aardkern van soliede
yster en ’n bietjie nikkel, omring deur vloeibare metaal
van dieselfde samestelling – die bron van die Aarde se
wisselende magneetveld.
Dié georeaktor-idee van die Amerikaanse
reaktor-en-geofisikus Marvin Herndon is inderdaad
omstrede sedert sy eerste publikasie hieroor in 1992,
soos ook vroeëre analises van hom wat daarop dui dat die
soliede kern van die Aarde eerder ’n samestelling van
nikkel en silikon is.
Om die saak in perspektief te sien, is dit miskien goed
om daaraan herinner te word dat, wat kennis van die
Aarde se binnekant betref, ons in groot mate op
indirekte gegewens en waarnemings moet staatmaak.
Direkte waarnemings is hoofsaaklik beperk tot “fyn
krappies” van etlike kilometer op die Aarde se oppervlak.
Die gevolg is dat daar nog heelwat detail oor die Aarde
se binne-samestelling is wat deurlopend onder die loep
kom.
Volgens Herndon en sy handjievol ondersteuners
verskaf die georeaktor-idee (beter) antwoorde op vrae
oor die verandering in die Aarde se magneetveld, die
verhouding van verskillende heliumisotope in
vulkaanuitbarstings, en die hoeveelheid warmte wat ’n
planeet afgee vergeleke met wat van die Son afkomstig
is, veral in die geval van Jupiter. Projekvoorstelle om
geld te kry om die idee verder te toets, het tot dusver
egter op dowe ore geval.
Hierdie situasie verander met rasse skrede onder die
vaandel van die projek EARTH (’n akroniem vir Earth
Antineu- tRino TomograpHy – www.geoneutrino. nl),
waarby Wes-Kaapse kernfisici betrokke is en wat
hoofsaaklik deur die Nederlandse entrepreneur Jacob Gelt
Dekker gefinansier word (kyk by
www.jacobgeltdekker.com). Die Nederlandse skakel is
veral via Rob de Meijer, ’n kernfisikus van Groningen,
wat Herndon se werk voortsit en oor ’n lang periode
skakeling met Suid-Afrika het. ’n Formele
samewerkingsooreenkoms met die universiteite van
Stellenbosch, Wes-Kaapland en Kaapstad, asook die
iThemba-versnellersentrum by Faure, is onlangs by
iThemba onderteken.
Maar wat is antineutrino-tomografie? Dit behels
letterlik om die bron(ne) van antineutrino’s binne die
Aarde met ’n tomografiese analise te bepaal. Tomografie
is ’n bekende term, veral in die mediese wêreld, en
verwys na die proses om uit ’n verskeidenheid van
tweedimensionele snitte van ’n voorwerp uiteindelik ’n
drie-dimensionele beeld saam te stel. (’n Gebore
Suid-Afrikaanse fisikus en later ’n Amerikaanse medikus,
Allan Cormack, het in 1979 ’n Nobelprys ontvang vir sy
pionierswerk op dié gebied.) Met die projek EARTH word
beplan om op verskeie plekke op die Aarde se oppervlak
groepe skagte van tot 2 km diep te sink waarin detektore
laat sak sal word om antineutrino’s waar te neem. Hulle
word in natuurlike radioaktiewe prosesse vrygestel, soos
dit by uraan voorkom. Op dié manier word die posisies
van uraanbronne binne die Aarde dan letterlik gekarteer.
Dit klink alles goed en wel, totdat ’n mens besef dat
detektore klein genoeg vir hierdie doel nog ontwikkel
moet word (dit is hier waar Suid-Afrikaanse kernfisici
betrokke sal wees), en nie om dowe neute nie. Neutrino’s
is naamlik daardie enigmatiese deeltjies wat sonder
enige wisselwerking feitlik ongesiens deur materie glip.
Dié wat met elektrone geassosieer word en van die Son
afkomstig is, het fisici lank aan die raai gehad – baie
minder as wat teoretiese voorspel is, is op die Aarde
waargeneem.
In 2001 is egter finaal vasgestel dat neutrino’s ’n
piepklein massa het (’n miljoenste van die elektron se
massa), maar genoeg om te verklaar dat hulle van
gedaante kan verwissel op hul reis van die Son na die
Aarde.
Soos John Bahcall dit stel: Hulle ondervind ’n
“veelvuldige persoonlikheidsteuring”. Lees gerus sy
pragtige beskrywing by http://nobelprize.org/nobel_prizes/
physics/articles/bahcall.
Hoewel ’n paar duisend miljard neutrino’s van die Son
per sekonde deur jou hand beweeg, sal jy tipies in jou
leeftyd dalk maar ’n enkele neutrino “vang”. In
radioaktiewe verval is dit eintlik die anti-deeltjie van
die neutrino wat voorkom: ’n Neutron verander in ’n
proton en straal tegelykertyd ’n elektron en ’n
antineutrino uit. Antineutrinos is egter net so
glibberig soos neutrinos, wat groot uitdagings stel aan
enige poging om hulle sistematies te “vang” en so waar
te neem, maar dit is presies wat in die projek EARTH
aangepak word.
Woordvoerders van EARTH wys daarop dat die projek
nie net ’n direkte antwoord sal verskaf oor die bestaan
van ’n georeaktor al dan nie en daarmee saam toeligting
oor planeetvorming in die algemeen en die gedrag van die
Aarde se magneetveld nie, maar dat daar ook talle
indirekte voordele is.
Nuwe tegnologie, veral in die ontwikkeling van detektore,
sal toepassing in die kernnywerheid vind. Dit kan ook
ingespan word in termiese kartering binne die Aarde se
oppervlak, met die oog op die benutting van nuwe
energiebronne. Waarneming van antineutrino’s sal ook ’n
nuwe vlak van akkuraatheid meebring in die bepaling van
waar kernontploffings plaasvind.
Soos ek dit al tevore in dié rubriek gestel het:
Wetenskap word nie in kompartemente beoefen nie. In die
geval van die projek EARTH word dit letterlik oor die
hele Aarde beoefen.
Hendrik Geyer is professor in die teoretiese fisika aan
die Universiteit Stellenbosch.
|